
=====================================================================
Afrikaans: 'n Landswye opname (AV 4:3)
=====================================================================

Inhoudsoorsig


Afrikaans: 'n Landswye opname

Lawrence Schlemmer, bekende navorser, s 'n nuwe oorkoepelende Afrikaans-gerigte organisasie sal groot simpatie en ondersteuning uitlok, 
selfs onder nie-Afrikaanssprekendes.

AFRIKAANSSPREKENDES, en blanke Afrikaners in die besonder, is klaarblyklik swaar getref deur die verwikkelinge rondom die amptelike 
benadering tot hul taal die afgelope drie jaar. Misnoe en vrese oor die toekoms van Afrikaans l dik gesaai in die gesindheid van die 
meeste Afrikaners. Dit gaan gepaard met onsekerheid oor strategie, en met 'n moontlik wanhopige vertroue in die beskerming wat die 
statutre Kultuurraad aan die taal sal kan bied. Maar wat veral sterk aangevoel word, is 'n behoefte aan meer daadwerklike optrede deur 
vrywillige kultuurorganisasies. In hierdie behoefte is Afrikaners beslis nie alleen nie.

Dit is die bre boodskap wat die bevindinge van 'n onlangse meningspeiling bring. Die peiling is aangevra nadat vooraanstaande 
Afrikaansspsrekendes by 'n saamtrek op Stellenbosch op 30 November verlede jaar te kenne gegee het dat hulle beoog om 'n oorkoepelende 
organisasie te stig wat oor politieke en rassegrense heen ter verdediging van Afrikaans kan optree. Maar daar was ook waarskuwings dat so 
'n stap sou lyk na 'n hunkering na die ou bevoorregte posisie van Afrikaans, en dat dit moontlik selfs vyandigheid onder die meerderheid in 
die land sou aanblaas. Die meningspeiling sou hierdie en ander bedenkinge kon toets.

MarkData (Edms.) Bpk. het die peiling in Februarie vanjaar onder 'n verteenwoordigende steekproef van 2220 Suid-Afrikaners, landelik en 
stedelik, uitgevoer. 'n Onderhoud is met elkeen in sy of haar huistaal gevoer oor aangeleenthede wat wyer as die voorgestelde organisasie 
gestrek het. Van die vernaamste bevindinge word hieronder kortliks opgesom en bespreek.

Slegs 9% van die blanke Afrikaners het gelukkig gevoel oor die amptelike behandeling van Afrikaans. Onder bruin Afrikaanssprekendes was dit 
meer, naamlik 40%, maar die oorgrote meerderheid woon in die Wes-Kaap, waar Afrikaans op amptelike vlak nie juis bedreig word nie. Sowat 
16% van die blanke Afrikaners, maar 51% van die bruin Afrikaanssprekendes het gemeen dat die Regering Afrikaans na verwagting of 
bevredigend respekteer. Onder blanke Afrikaners is 'n volle derde daarvan oortuig dat die Regering Engels doelbewus voortrek.

Altesaam verwag 59% van die blanke Afrikaners, maar slegs 18% van die bruin Afrikaanssprekendes dat hul taal mettertyd sal verswak of selfs 
sal uitsterf. Daarom het 21% van die blanke Afrikaners gevoel dat dit raadsaam is om hul kinders in 'n internasionale taal soos Engels te 
laat opvoed. Bruin Afrikaanssprekendes voel sterker hieroor en 37% meen dat hul kinders in Engels opgevoed behoort te word, ondanks die 
feit dat Afrikaans in die Kaap onder minder druk verkeer.

Daar is invloedryke mense, selfs onder Afrikaners, wat tn die sienings hierbo die argument sou aanvoor dat Afrikaans as een van die elf 
amptelike tale op formele vlak nog steeds meer gebruik word as enige ander inheemse taal. Slegs 3% van die blanke Afrikaners en 12% van die 
bruin Afrikaanssprekendes ondersteun egter die argument dat Afrikaans meer as sy regmatige aandeel geniet. Onder Engelssprekende blankes 
meen slegs 18% dat Afrikaans nog steeds bevoorreg is, maar van die swart mense huldig 'n derde di mening.

Amper 90% van die blanke Afrikaners, 55% van die bruin Afrikaanssprekendes, 47% van die Engelssprekendes en selfs 'n derde van die swart 
mense voel dat Afrikaans in 'n mindere of meerdere mate onregverdig benadeel word.

Antwoorde op beleidsbesluite oor Afrikaans by die SABC televisie gee 'n aanduiding van watter amptelike optrede aanvaarbaar sou wees om die 
probleem van elf amptelike tale te hanteer. Slegs 7% blanke Afrikaners, 15% Afrikaanse bruinmense, 13% Engelssprekendes en niks meer as 'n 
derde van die swart mense nie ondersteun die besluit om Afrikaans onmiddellik met al die ander inheemse tale gelyk te stel. 'n Geleidelike 
gelykstelling kry groter steun: 20% by Afrikaners, 47% by bruin Afrikaanssprekendes en 30% by swart mense.

Die oplossing wat onder blanke Afrikaners die meeste byval vind, is om die groter tale soos Afrikaans, Zoeloe, Sotho, Xhosa en Engels gelyk 
te stel sonder om Afrikaans tot die gebruiksvlak van kleiner minderheidstale af te skaal. Hierdie oplossing word gesteun deur 47% van die 
blanke Afrikaners, 31% onder Engelse en 20% onder swart mense.

Die oplossing van die SABC, talle regeringsinstansies en baie stadsrade om aan Engels die voorkeur te gee, word deur slegs 18% van die 
blanke Afrikaners, 15% bruin Afrikaanssprekendes en 17% swart mense verkies. Selfs onder Engelssprekendes kies slegs 40% die oplossing om 
aan hul eie taal die voorkeur te gee. Die vraag ontstaan dus watter mate van raadpleging plaasgevind het voordat die SABC en sekere 
regeringsinstansies hul besluite geneem het.

Waar hoop die Afrikaners om beskerming te vind? Sowat 53% meen dat bestaande vrywillige organisasies min of meer doeltreffend optree. 'n 
Rapsie meer -- 56% -- meen dat die nuwe Kultuurraad vir Afrikaans 'n wal sal kan gooi. Maar 85% van die blankes en 69% van die bruin 
Afrikaanssprekendes meen dat vrywillige mobilisering rondom taal en kultuur noodsaaklik is. Meer as 70% van die swart mense meen ook so, 
natuurlik ten opsigte van hul eie tale en kulture.

Op die vraag of 'n nuwe oorkoepelende, nie-rassige organisasie ter beskerming van Afrikaanse gestig behoort te word, is daar uiters min 
teenkanting uitgespreek. Slegs 4% en 12% van die blanke en bruin Afrikaanssprekendes onderskeidelik meen dat so 'n organisasie onnodig, 
oorbodig of nadelig sou wees. Selfs onder swart mense voel slegs 30% dat 'n oorkoepelende organisasie vir die beskerming van Afrikaans 
onnodig is en 12% meen dat dit nadelig sou wees.

Die volgende persentasies s dat hulle so 'n Afrikaans-gerigte organisasie graag aktief sal wil ondersteun: blanke Afrikaners 32%, bruin 
Afrikaanssprekendes 23%, Engelssprekendes 21%, swart mense 21%. Dat so 'n organisasie groot simpatie en ondersteuning sal uitlok, selfs 
onder nie-Afrikaners, ly min twyfel. Daar is 'n ongerustheid by baie swart mense en Engelssprekendes oor die aftakeling van ander se 
kultuureie.

Afrikaans is in 'n baie dubbelsinnige situasie. Die beginsel van gelyke behandeling van Afrikaanssprekendes en andertaliges kan kwalik op 
beginselvlak verwerp word. Waar gelykstelling egter neerkom op 'n aktiewe verlaging van die status wat Afrikaans tot onlangs geniet het, 
word ander beginsels aangetas. Die skielike openbare verlies van kultuurwaarde beteken vir die meeste blanke en bruin Afrikaanssprekendes 
'n baie meer vernietigende en pynlike aanslag as wat 'n soeke na kultuurgelykheid impliseer.

Op die emosionele en komplekse terrein van kultuur- en taalaanpassing op openbare vlak is daar klaarblyklik 'n behoefte aan die mees 
intensiewe raadpleging en deskundige insette wat op deeglike navorsing gegrond is. Die model vir 'n oplossing moet nog gevind word. Hoe 
meer besinning hieroor plaasvind, en hoe sterker vrywillige organisasies in 'n oorkoepelende opset kan saamwerk, hoe gouer sal 'n rigting 
uitkristalliseer. Die bevindinge van hierdie peiling dui aan dat Afrikaners sonder 'n sinergie van kultuurkragte mettertyd tussen 
mismoedigheid en konfrontasie gaan verdeel, tot nadeel van die land in sy geheel. Dr. Lawrence Schlemmer is betrokke by Markdata (Edms.) 
Bpk.

Terug na bo

Hierdie blad: <http://www.afrikaans.com/av431.html> Voeg kommentaar toe aan hierdie bladsy. Skryf gerus aan die redaksie.  Kopiereg (c) 
Stigting vir Afrikaans 1999     Blaai terug | Blaai om
.

Enige woord Al die woorde Presiese frase   /// Afrikaans Vandag -- Junie 1997 /// Afrikaans: 'n Landswye opname (AV 4:3) /// 'n Lewe in 
diens van die Afrikaanse woord (AV 4:3) /// Die dinamiek van Afrikaans (AV 4:3) /// As die taal se vure kom uitbrand (AV 4:3) /// Dis ns 
storie (AV 4:3) /// S Afrikaans sy s in die sakebinnekring? (AV 4:3) /// Afrikaans moet uitreik na Afrika (AV 4:3) /// Koerantprojek 
stimuleer handevat-aksie (AV 4:3) /// Ek staan tussenin -- tussen alles (AV 4:3) /// Kuns in diens van taal? (AV 4:3) ///

